Is Herbex Health nommer een vir gewigsverlies?

Share on facebook
Share on pinterest
Share on twitter
Share on linkedin

Stop! Lees hier voor jy ‘n Herbex produk koop

Hoeveel keer het jy al ‘n nuwe jaar met ‘n plegtige belofte aan jouself begin? “Hiérdie jaar gaan ek dit doen. Geen verskonings nie, ek gaan gewig verloor.”

Hoeveel keer het jy al hierdie belofte aan jouself verbreek, want dis net te moeilik? Herbex Health reken hulle kan dit makliker maak. Hulle slagspreuk belowe immers: “It works!” 

Maar werk dit regtig?

Wat is Herbex?

Volgens Herbex se webtuiste is die volgende vyf stappe die weg na ‘n gesonder, maerder jy:

  1. Geniet ‘n verskeidenheid van kossoorte, maar kyk na porsiegroottes en beperk suiker, vet en stysel. Eet baie vars groente en vrugte.
  2. Kies jou Herbex Health produk. Die produkte speel ‘n integrale rol in jou gewigsverliesprogram.
  3. Drink ten minste agt glase water per dag.
  4. Oefen gereeld.
  5. Stel realistiese doelwitte vir jouself en bly positief.

Die grootste verskil tussen ‘n ‘gewone’ dieet en ‘n Herbex-dieet is dus die produkte. En daar is báie om van te kies.

Die Herbex produkte is 100% natuurlik en daar is verskillende reekse om van te kies, onder andere Attack the Fat, Fat Burn, verskillende soorte tee en proteïenskommels.

Daar is ook produkte spesifiek vir mans. Volgens Herbex is dit heeltemal veilig om meer as een tipe van hulle produkte saam te gebruik.

Teen R74.99 kan jy selfs 500ml appelasyn aanskaf. Drink 15ml daarvan opgelos in ‘n koppie water tot drie maal per dag, vir gewigsverlies en beter spysvertering.

Die keuse is joune watter produkte jy wil gebruik, maar Herbex bied hulp op hulle webtuiste as jy sukkel om te kies. ‘n Produk word vir jou aanbeveel op grond van jou antwoorde op drie vrae.

Eerstens word aanbeveel dat jy met jou dokter gesels indien jy enige chroniese gesondheidsprobleme het. Daarna lei die volgende vrae jou na die produk wat reg is vir jou:

  • Voel jy opgeblaas en traag? Indien wel, word aanbeveel dat jy vir 10 dae ‘n ontgiftingsproduk gebruik, en dan aanbeweeg na stap 2.
  • Is jy sensitief vir natuurlike stimulante soos groentee en guarana? Dan word jy verwys na produkte wat minder van hierdie stowwe bevat.
  • Ly jy dikwels aan hardlywigheid? In dié geval kan jy voortgaan met die Attack the Fat-stroop wat beloof om te help met hardlywigheid tesame met gewigsverlies.

Indien nie, kan jy die Fat Burn Concentrate gebruik.

Volgens Herbex sal dit makliker wees om gewig af te skud as jou eerste stap is om jou liggaam te ontgif. En ja, daar is produkte wat jy daarvoor kan gebruik.

Hulle waarsku egter dat ongifting uiters onaangenaam kan wees, met simptome soos hoofpyn, geïrriteerdheid, slapeloosheid, spierpyn en naarheid.

Die voordeel is glo dat jou liggaam homself reinig van binne en ontslae raak van gifstowwe sodat jy fisies gesond kan bly.

Die konsep van ontgifting kry egter nie veel aftrek in die mediese wêreld nie.

Mediese toksikoloog dr Ryan Marino het in Januarie 2020 onomwonde verklaar dat produkte om jou te help ontgif niks anders as ‘n verneukspul is nie.

“Niemand het nodig om te ontgif nie,” sê Dr Marino. “Daar dryf nie vanself gifstowwe in jou liggaam rond nie. As jy wel vergiftig word, gaan niks wat jy oor die toonbank kan koop daarvoor help nie.”

Volgens die Amerikaanse Harvard Mediese Skool is die liggaam toegerus met alles wat nodig is om ontslae te raak van onwelkome stowwe.

Die liggaam se natuurlike ontgiftingsisteem bestaan uit die vel, die asemhalingstelsel, die immuunstelsel, die derms, lewer en niere.

Kan ek Herbex gebruik saam met my medikasie?

Herbex beveel aan dat jy die gebruik van hul produkte met jou dokter bespreek indien jy op enige medikasie is, en dit geld veral vir diabetiese pasiënte en diegene met bloeddrukprobleme.

Dit is wel veilig om die voorbehoedpil saam met Herbex-produkte te gebruik. 

Daar word aanbeveel om dit te hanteer soos enige ander medikasie – gebruik addisionele beskerming vir die eerste paar weke terwyl jou liggaam aanpas om swangerskap te voorkom.

Dit is nie raadsaam om Herbex of enige ander verslankingsproduk te gebruik terwyl jy swanger is of borsvoed nie.

Omstredenheid

Herbex was in 2018 in die nuus vir al die verkeerde redes. 

Businessinsider.co.za het berig dat ‘n TV-advertensie vir Herbex verbied is nadat ‘n dokter ‘n klagte ingedien het by ASA (Advertensie Standaarde Gesag Vereniging van SA).

Dr Harris Steinman, ook ‘n aktivis vir verbruikersaangeleenthede, was ongelukkig oor die advertensie, waarin ‘n verslanker vertel dat sy 43kg met Herbex verloor het.

Sy het verder gesê dat sy die gewig oor ‘n tydperk van 10 jaar kon afhou, en dat Herbex haar lewe verander het.

Dr Steinman se standpunt was dat daar geen wetenskaplike bewyse bestaan dat Herbex se produkte ‘n beduidende effek op gewigsverlies het nie.

Hy het gesê die advertensie is misleidend om drie redes:

  1. Dit versuim om te noem dat slegs ‘n persentasie van verbruikers resultate sal sien; 
  2. Dit is onwaarskynlik dat ‘n mens ‘n groot hoeveelheid gewig sal verloor;
  3. Die produk sal waarskynlik geen verskil maak as die verbruiker dit nie kombineer met ‘n laekalorie-dieet en oefening nie.

Herbex het teruggekap met ‘n hofuitspraak waarvolgens ASA onwettig opgetree het omdat Herbex nie ‘n ASA-lid was nie. Hulle het nie kommentaar gelewer oor Dr Steinman se besware nie.

In November 2020 berig Business Insider South Africa dat 2018 se insident homself so te sê herhaal het.

Dr Steinman het weer eens ‘n klag ingedien, hierdie keer oor ‘n advertensie vir die Ultraslim-reeks. 

Daarin word beweer dat die produk bloedsuikervlakke kan balanseer en maagvet kan voorkom.

Die hedendaagse ARB (Advertising Regulatory Board) se ondersoek het bevind dat daar geen wetenskaplike bewyse bestaan dat die produk wel sy beloftes kan nakom nie.

Weer eens was Herbex se reaksie dat die ARB nie ‘n uitspraak mag lewer oor hulle advertensies nie.

Wat sê Herbex-verbruikers?

Die Herbex-webtuiste vertoon trots die voor en na foto’s van mense wat groot hoeveelhede gewig verloor het. 

Facebook resensies op Herbex Health SA is ook oorwegend positief, en dit kry ‘n punt van 4.7 uit vyf, gebaseer op die opinies van 61 mense.

Dieetkundige Ashley Gibbon waarsku dat jy altyd die risiko loop om newe-effekte te ervaar as jy dieetprodukte gebruik. Dit sluit in:

  • ‘n Stadiger metaboliese tempo wanneer jy die produkte staak. Dit beteken dit vat jou liggaam nou langer om kalorieë te verbrand.
  • Krampe, naarheid en diarree.
  • Die produk kan soms verhoed dat sekere voedingstowwe deur jou liggaam opgeneem word, wat dan lei tot tekorte.
  • Spysverteringsprobleme terwyl of nadat jy die produk gebruik het.

Volgens Gibbon is ‘n leefstylverandering die enigste manier om gewig te verloor. “‘n Mens tel gewig op weens slegte eetgewoontes en ‘n onaktiewe leefstyl oor ‘n lang tydperk,” sê sy.

“Net so vind gewigsverlies oor ‘n tydperk plaas wanneer jy begin reg eet en meer aktief raak.” 

Behalwe vir die feit dat hulle produkte aan jou beskikbaar stel, stem Herbex volkome saam met hierdie stelling. 

Trouens, hulle stel dit duidelik dat hulle produkte slegs sal werk indien jy volhou met ‘n gesonde leefstyl. 

Op hulle eie webtuiste sê Herbex: “Al ons suksesverhale is gevalle waar die persoon ernstig besluit het om ‘n gesonder leefstyl te handhaaf.

Dit is hierdie besluit wat gewaarborg het dat ons verslankers suksesvol was en die meeste van hulle boonop die gewig kon afhou.”

Herbex bied ondersteuning aan verslankers deur middel van ‘n groot verskeidenheid raadgee-artikels op hulle webwerf, asook ‘n nuusbrief.

Indien jy hulle produkte gebruik en steeds nie gewig verloor nie, is dit omdat jy, volgens Herbex, moontlik een of meer van die volgende foute maak:

  • Jy slaan etes oor. Dit kan die gevolg het dat jy so honger raak dat jy later in die dag te veel eet.
  • Jy vergeet dat drankies soos koffie en tee met suiker, vrugtesap ens. ook baie kalorieë bevat.
  • Jy slaap te min. Jou liggaam sorg dan dat jy lus raak vir ongesonde vette en koolhidrate om jou daai ektra energie-hupstoot te gee.
  • Jy eet te veel ‘gesonde’ kosse. Kos soos onder andere neute, avokado, olyfolie en donker sjokolade is gesond, maar bevat steeds baie kalorieë.
  • Jy dink te veel aan oefening. Dit kan glo veroorsaak dat jy jouself toestemming gee om te veel te eet, want jy weet daar lê ‘n oefensessie voor.
  • Jy fokus te veel op kardio-oefeninge. Kragoefeninge help jou om meer kalorieë te verbrand terwyl jy nie oefen nie.
  • Jy drink te veel dieetkoeldrank. Kunsmatige versoeters kan inwendige veranderinge veroorsaak wat gewigstoename teweegbring.
  • Jy vergeet om te beweeg deur die dag. As jy te lank aanmekaar stilsit sal jou liggaam sukkel om kalorieë te verbrand.
  • Jy drink te veel water. Vind die regte hoeveelheid vir jou behoeftes.
  • Jy het ‘n mediese probleem wat verhoed dat jy gewig verloor.

Indien jy wel sukses behaal op Herbex en jou teikengewig behaal, beteken dit dat jy vir ewig die produkte moet gebruik?

Volgens Herbex is dit nie nodig nie, mits jy vasbyt met jou nuwe, gesonde gewoontes. Dit spreek vanself dat die eetgewoontes wat jou in die eerste plek oorgewig gemaak het, dit weer sal doen.

‘n Slegte nasmaak…

Aanhangers van Herbex-produkte is vol lof vir die effektiwiteit van die produkte. Dis duidelik uit die woorde van hierdie Facebook gebruiker: 

“Herbex is ongelooflik, die enigste produk wat nog ooit vir my gewerk het. Ek beveel dit aan vir enigiemand.”

‘n Direkte aanhaling van Eddie Bisset, stigter en hoof uitvoerende beampte van Herbex, tref ‘n mens egter soos ‘n vuishou in die maag: 

“Klante is dwaas genoeg om te glo wat ‘n mens op jou etiket skryf.”

Comments

comments

Amper klaar... 50%

Kry meer inligting oor CSN deur jou besonderhede hieronder te verskaf en op die pers knoppie te kliek!