Alles wat jy moet weet voor jy Slender Wonder beproef

Share on facebook
Share on pinterest
Share on twitter
Share on linkedin

Slender Wonder: foefie of gewigsverlieswonder?

Om op ‘n dieet te gaan is deesdae ‘n bietjie soos kar koop. 

Jy moet navorsing doen, uitwerk watter een die beste by jou lewenstyl gaan pas, en watter een jy kan bekostig. Asof dit nie genoeg is nie, moet jy boonop tred hou met die nuutste mode!

Mediese gewigsverlies

Ja, gewig verloor is groot besigheid. In ‘n tyd van kits-alles, waar jy vinnig (‘n ongesonde) middagete op jou foon kan bestel, sukkel baie mense desperaat om oortollige rolle af te skud. 

Daar is hulp en ondersteuning beskikbaar, en Slender Wonder is een van die opsies wat jy kan oorweeg. Maar jy gaan diep in jou beursie moet kyk. Is dit die moeite werd? 

Die uitgangspunt van die Slender Wonder-span is dat vetsugtigheid ‘n mediese probleem is. Daarvolgens werk jy saam met ‘n dokter om jou doelwitte te bereik.

Die eerste stap

Gestel jy besluit om die Slender Wonder-roete te neem op jou pad na gewigsverlies. 

Die eerste stap sal dan wees om ‘n afspraak te maak met ‘n geakkrediteerde Slender Wonder dokter in jou omgewing.

Tydens die afspraak word daar saam besluit wat jou doelwitte is. Die dokter neem fisiese en emosionele uitdagings wat jy mag ervaar in ag wanneer sy jou dieetplan saamstel.

Hierdie uitdagings sluit in mediese toestande wat moontlik in die pad van jou gewigsverlies kan staan, dus is dit belangrik dat jou dieetdokter goed bekend is met jou mediese geskiedenis.

Na die eerste afspraak beveel Slender Wonder aan dat jy elke tweede week, of ten minste maandeliks jou dokter te besoek vir ‘n weeg en meet-sessie.

Hoe werk die dieet?

Volgens die Slender Wonder webtuiste sal die eerste maand op hulle dieet jou tussen R3 700 en R3 900 uit die sak jaag. Hierdie bedrag word nie deur mediese fondse gedek nie.

Dit is nie ‘n eenmalige bedrag nie, maar jy sal minder opdok nadat jy deur die eerste fases van die plan is. 

Dit is raadsaam om rond te bel vir pryse indien jy toegang tot meer as een dokter het, aangesien dit kan verskil tussen deelnemende dokters.

Die program bestaan uit ‘n eetplan en ‘n indrukwekkende hoeveelheid produkte wat jy moet gebruik (jou dokter bepaal wat jy nodig het). 

As jy ‘n vrees vir naalde het sal jy dit vinnig moet oorwin, want op Slender Wonder moet jy jouself daagliks inspuit.

Die program bestaan uit vyf fases:

  • Fase 1: Stimulasie. In hierdie fase begin jy met daaglikse inspuitings en produkte, maar jy mag nog eet soveel en wat jy wil.
  • Fase 2: Ontgifting. Vir een tot drie dae gaan jy bitter min kalorieë inneem, meestal in die vorm van vrugte. Baie water word aanbeveel asook ‘n dieetdrankie, aanvullings en jou inspuiting. Tydens hierdie fase moet jy baie rus en verkieslik nie oefen nie.
  • Fase 3: Gewigsverliesfase. Nou gaan jy vir vier tot ses weke die Simeon B eetplan volg. Jy gaan aan met jou aanvullings en inspuitings.Trouens, op Slender Wonder se Facebook bladsy word daar gewaarsku om nie die inspuiting te vergeet nie omdat jy sal honger ly daarsonder. 
  • Fase 4: Stabilisering. Hierdie fase duur vir ‘n maand nadat jy jou doelgewig bereik het. Jou inspuitings word nou gestaak. Jou eetplan word aangepas in hierdie fase. Volgens Slender Wonder is hierdie fase ‘n moet, en sal jy gewig optel as jy dit nie doen nie.
  • Fase 5: Hierdie fase duur vir ‘n jaar, en nou is dit jou werk om ‘n gesonde leefstyl en gewig te handhaaf.

 

Jou daaglikse inspuitings is iets van die verlede en die gebruik van Slender Wonder produkte is opsioneel.

Jy moet elke dag die skaal trotseer in hierdie fase en ‘n afspraak maak met jou dokter indien jy 2-3kg optel.

Slender Wonder belowe dat jy met die hulp van hulle plan wel vet verloor, en nie net water of spiermassa nie.

En hoeveel gewig kan jy afskud? Blykbaar tussen vier en sewe kilogram in die eerste maand, maar dit verskil van mens tot mens. 

Waarom die inspuiting?

As die idee om jouself in te spuit jou geesdrif vir gewig verloor effens demp, is jy beslis nie die enigste een nie. Maar op hierdie eetplan is dit nie onderhandelbaar nie.

Jou Slender Wonder inspuiting bevat ‘n hormoon bekend as MCG (menslike chorioniese gonadotropien). Dit is in Engels bekend as HCG (human chorionic gonadotropin).

Hierdie hormoon word normaalweg tydens swangerskap vervaardig deur die selle rondom ‘n groeiende embrio, en is al in die eerste week van ‘n swangerskap in die liggaam teenwoordig. 

Dit is dan ook dié hormoon wat deur middel van ‘n swangerskaptoets verklap dat ‘n pienkvoet op pad is.

Wat op aarde het dit met maer word te doen?

Volgens die American College for Advancement in Medicine is dit die werk van menslike chorioniese gonadotropien om gesonde volterm swangerskappe te verseker.

Tydens swangerskap ervaar die vrou ‘n verhoogde metabolisme omdat MCG gebergde vet beskikbaar maak vir die liggaam. 

Die doel hiervan is om die swangerskap te beskerm, selfs sou die ma nie toegang tot kos het nie.

Dus kan vet deur die MCG afgebreek word en omgesit word in energie. Hierdie scenario word deur die toediening van MCG herskep in die pasiënt wat wil gewig verloor.

Die pasiënt se kalorie-inname word streng verminder, en die hormooninspuiting sorg dat jy ontslae raak van vet.

Dis belangrik om te onderskei tussen die sogenaamde MCG-dieet en ‘n dieet waarin MCG deur ‘n dokter voorgeskryf word.

Volgens die MCG-dieet word die verslanker slegs 500 kalorieë per dag toegelaat. Jy mag nie oefen nie, en sal waarskynlik nie die energie daarvoor hê nie.

MCG word dan gewoonlik mondelings as ‘n aanvulling ingeneem. Kenners waarsku dat die inname van MCG op hierdie manier gevaarlike newe-effekte kan hê.

Boonop is daar geen bewyse dat dit werk nie. Vyfhonderd kalorieë per dag is eenvoudig te min om normale liggaamsfunksies te handhaaf. 

Jy loop boonop die gevaar om wanvoeding op te doen, tesame met onder andere ‘n ongereëlde hartklop en jy sal ongelukkig en geïrriteerd voel.

Jy sal wel gewig verloor, maar bloot omdat jy te min eet. MCG is slegs effektief as jy dit per inspuiting inneem, omdat dit dan direk in die bloedstroom beland.

Met mondelingse inname los die hormoon op voordat dit jou bloedstroom bereik, en dit doen absoluut niks vir jou nie.

Sommige verslankers op die Slender Wonder plan het wel ondervind dat die inspuiting seermaak, een het selfs genoem dat sy nie met die dieet kon volhou nie as gevolg hiervan.

As jy egter nie ‘n naald gaan toelaat om in jou pad te staan nie, kontak gerus ‘n Slender Wonder dokter.

Wat mag ek eet op Slender Wonder?

Jou dokter sal vir jou ‘n streng dieetplan uitwerk wat gebaseer is op jou unieke behoeftes.

Maaltye is laag in vet, koolhidrate en suiker en het ‘n lae glukemiese indeks. Jy gaan sommige van jou daaglikse etes vervang met ‘n proteïendrankie.

Die volgende kossoorte is voorbeelde van wat toelaatbaar is op hierdie dieet: 

  • Groente Aspersies, blomkool, kool, blaarslaai, tamatie, eiervrug, spinasie, broccoli, Brusselse spruite, uie komkommer
  • Proteïne Vis, vleis sonder vel of vet, ongegeurde laevet jogurt, eiers
  • Vrugte Appels, naartjies, lemoene, waatlemoen, mango, perskes, aarbeie
  • Geurmiddels Kruie, suurlemoen, sout, peper

Geen suiker word toegelaat nie, slegs versoeters wat nie aspartaam bevat nie. Drankies soos tee, sodawater, kafeïenvrye koffie en dieetkoeldrank is toelaatbaar.

Soos die meeste diëte kan dié een ‘n uitdaging raak, en soms voel dit of jy kan hoor hoe die sjokoladekoek jou roep.

Sou jy wel ingee, is dit nie die einde van die wêreld nie. Jou gewigsverlies kan wel vertraag word, maar as jy aangaan en by die plan hou sal jy weer begin kilogramme afskud.

Die Slender Wonder produkte wat jy aangekoop het is ‘n integrale deel van jou plan. 

Dit sluit in, soos reeds genoem, alles wat jy benodig vir jou inspuiting, ‘n boekie met al die inligting en maaltyd idees wat jy nodig het, en jou proteïendrankie.

 

Verder is daar ook verskeie vitamien- en mineraalaanvullings, vetblokkeerders en ontgiftingsmiddele.

 Ja of nee vir Slender Wonder?                                                                                                                                                                                                    

Health24 se DietDoc het Slender Wonder skerp gekritiseer. 

Volgens hom is die beginfases van die dieet so laag in energie dat jy in elk geval sal gewig verloor, selfs al gebruik jy nie die aanvullings nie.

Die ander kant hiervan is, sê DietDoc, dat die liggaam sal baklei teen honger ly, en dit kan gewigsverlies vertraag.

Verslankers wat die plan gevolg het, bevestig ook dat die beginfases bitter moeilik is: “Ek was soos ‘n beer met ‘n seer tand,” vertel Sarah Powell.

Tog spog Slender Wonder se webtuiste met elf bladsye vol suksesverhale. 

Jy kan gaan kyk na foto’s van pasiënte voor en na hulle gewigsverlies, en sommige van hulle het meer as 50kg verloor.

Dit is wel nie bekend hoeveel van hierdie verslankers hulle nuwe liggame kon behou nie. 

Slender Wonder waarsku egter self dat jy nie weer kan eet soos in die verlede en verwag om slank te bly nie. 

Jy word tydens die laaste fase van die program geleer om bietjie meer te eet terwyl jy nogsteeds gesonde koskeuses maak.

Is Slender Wonder vir jou?

As jy nie ‘n dieet volg waarmee jy 100% gemaklik is nie, sal jy nie suksesvol wees nie. 

Daar bestaan geen twyfel dat Slender Wonder ‘n uitdaging is nie, maar as deursettingsvermoë een van jou sterkpunte is, is daar niks wat jou keer om suksesvol te wees nie.

Dit is boonop groot pluspunte om te weet jy gaan nie alleen deur die proses nie en het boonop mediese ondersteuning.

Die keuse is joune.

Comments

comments

Amper klaar... 50%

Kry meer inligting oor CSN deur jou besonderhede hieronder te verskaf en op die pers knoppie te kliek!