Is Weigh-less een van die beste diëte?

Share on facebook
Share on pinterest
Share on twitter
Share on linkedin

Kan jy minder weeg met Weigh-less?

Of jy nou vet of maer of êrens tussenin is, die kanse is goed dat jy al van Weigh-less gehoor het.

Dié gewigsverliesgroep het al in die sewentigs in Suid-Afrika tot stand gekom, en gaan steeds van krag tot krag.

Wie is Weigh-less en het hulle die geheim tot ‘n nuwe, slanker jy?

Welkom by die familie

Wanneer jy loer na die Weigh-less webwerf voel jy sommer met die eerste oogopslag tuis. Dit is doelbewus, want Weigh-less wil hê jy moet weet hulle verstáán.

As jy nie self in die skoene van ‘n oorgewig persoon staan nie, is dit moeilik om te besef hoe so ‘n persoon voel. Jy weet jy dra ekstra gewig, die spieël jok nie.

Jy weet jy is moontlik ongesond, jy beweeg moeilik, jou selfbeeld lê aan skerwe. 

Jy is moontlik selfs depressief, en daardie soet happie is een van min dinge wat die goedvoel-hormone in jou brein wakker maak.

By Weigh-less het die persone wat jou gaan help, self die pad geloop. Hulle weet waaroor dit gaan. Dit was die visie van Mary Holroyd, die stigter van Weigh-less.

Gewapen met ‘n skaal en R10 vir bemarking, het Mary in 1975 in Durban Weigh-less in die lewe geroep. Verslankers het in groepies, gelei deur Mary, bymekaargekom.

Die woord het vinnig versprei oor ‘Mary se groepies’ en die lidmaatskapsyfers het gegroei tot op ‘n punt waar Mary nie meer self al die groepies kon behartig nie.

Nuwe groepleiers is aangestel – almal mense wat reeds die ‘weeg minder’ pad gestap het. 

Mary self se voor en na foto’s pryk op die Weigh-less webwerf, en sy onderhou haar eie teikengewig nou al vir 44 jaar.

Hoe werk Weigh-less?

Jou gewigsverliesreis met Weigh-less skop af met die volgende stappe nadat jy aangesluit het:

  1. Jou persoonlike profiel word saamgestel. Hier word jy as mens onder die vergrootglas geplaas. Faktore soos jou leefstyl, persoonlikheid, mediese probleme, jou gewigsverliesdoelwitte en jou verhouding met kos word gebruik om jou as ‘n A, B of C te klassifiseer. Jou plan word dan volgens jou profiel saamgestel.
  2. Jy ontvang jou Weigh-less Formule. Dié organisasie se benadering tot verslanking is eenvoudig: jy moet meer energie gebruik as wat jy inneem. Jou persoonlike formule (energie in vs energie uit) word dus saamgestel gebaseer op jou aktiwiteitsvlakke. Jou kosvoorkeure word wel in ag geneem. Baie klem word daarop geplaas dat jy op ‘n gesonde manier gewig verloor. Jy gaan wel ‘n kaloriebeheerde dieet volg, maar dit is ook ‘n gebalanseerde dieet met al die voedingstowwe wat jou liggaam nodig het.
  3. Jou teikengewig word bereken. Jou groepleier sal jou help om realistiese, gesonde doelwitte te stel. Jou teikengewig word gebaseer op jou ouderdom, geslag, beenstruktuur, lengte, gewig en leefstyl. Al die inligting wat versamel is word nou gebruik om jou pad na ‘n slanker jy in 10 stappe te verdeel. Soos wat jy deur die stappe vorder, leer jy meer ‘reëls’. Jy word dus nie aan die diep kant ingegooi nie, en leer geleidelik om gesonder gewoontes aan te kweek. Jy kry ook ‘n kaart waarop jou vordering visueel uitgebeeld word, om seker te maak jy het duidelikheid oor die stappe wat jy moet volg.
  4. Jou groepleier maak seker jy is gemaklik met alles wat gebeur. 

Sy sal verduidelik hoe jou unieke dieetplan werk en jou waarskynlik kontak kort na jou eerste groepsessie om seker te maak alles is vir jou duidelik.

Weigh-less beveel aan dat jy eerlik is met jou groepleier oor enigiets wat jy op die hart het rakende jou dieet. 

As jy byvoorbeeld die hele tyd honger is op jou eetplan, moet jy dit aanmeld sodat dit aangespreek kan word.

Wat mag ek eet op Weigh-less?

Die dieet sluit kos van al die belangrike voedselgroepe in. 

Jy word voorsien van ‘n sogenaamde ‘Koslys’ waarop kossoorte in verskillende afdelings verdeel word: goed, beter, beste en nie-noodsaaklik.

Die idee hiervan is om mense met slegte eetgewoontes te leer  hoe om beter koskeuses te maak.

Jy gebruik dan jou formule en jou koslys om jou etes saam te stel. Weigh-less het hulle eie resepte, sowel as hulle eie produkte beskikbaar, reeds ingedeel in die bogenoemde afdelings.

‘n Weigh-less resep vir skaapboud op die braai, met knoffel en roosmaryn, val byvoorbeeld onder die ‘beste’ keuse afdeling.

Boonop leer Weigh-less jou watter produkte op die rak, van wyn tot tamatiesous, jy mag gebruik in jou eetplan.

Sal jy weer die gewig optel nadat jy jou doelgewig bereik het? Die Weigh-less plan leer jou om beter koskeuses te maak, met die bedoeling dat dit jou nuwe leefstyl word.

Dit is hoekom daar so baie klem gelê word op ‘n gebalanseerde plan wat geen voedselgroepe streng verbied nie. Jy gaan dus beslis moet voortgaan om ‘n oog oor jou gewig te hou.

Dit is immers onrealisties om te dink jy kan teruggaan na die eetgewoontes wat jou die eerste keer in die moeilikheid laat beland het – dit sal weer gebeur.

Watter tipe ondersteuning bied Weigh-less?

Daar word sterk aanbeveel dat jy jou weeklikse groepsessies bywoon. Hier kry jy die geleentheid om jou uitdagings en oorwinnings te deel met mense wat jou ervarings deel.

Aanspreeklikheid is ook een van die groepsessies se voordele. Die feit dat jy jou vordering met ander deel dien as motivering – dis nie lekker om te erken dat jy onsuksesvol was nie.

Jou groep is ook ‘n bron van motivering, en jou groepleier speel ‘n groot rol hierin. Indien jy enige raad benodig, is jou groepleier daar vir jou.

Die slegte nuus is dat jy wel sal moet uitvind watter groepe is die naaste aan waar jy bly, indien enige. 

Jy kan steeds die dieet volg as daar nie ‘n groep naby jou is nie, maar jy sal dit dan sonder hierdie addisionele ondersteuning moet doen.

Die webwerf is ‘n verdere bron van inligting en ondersteuning, en daar is ‘n Facebook-groep slegs vir lede van Weigh-less. Die Instagram-blad is ook propvol motivering.

Is Weigh-less bekostigbaar?

‘n Aansluitingsfooi van R230 is geldig, en daarna is die betaling verskuldig aan Weigh-less R300 per maand.

Jy spaar as jy vooruit betaal, en die kostes is dan R800 vir drie maande of R1 520 vir ses maande. Daar is afslag beskikbaar vir pensioenarisses, studente en Discovery Vitality lede.

Vir lede wat die volle R300 per maand betaal is daar ‘n heerlike beloning: jou fooie word minder namate jy jou doelwitte bereik.

Jou betaling word uitgewerk op grond van jou vordering gebaseer op die tien stappe wat vroeër genoem is. Wanneer jy stap 2 bereik, verminder jou fooi met 5%.

Teen die tyd wat jy stap 8 bereik kwalifiseer jy vir ‘n 15% afslag, en daar wag meer bonusse wanneer jy jou teikengewig bereik.

Werk Weigh-less?

In ‘n 2015-artikel beskryf Women24 Weigh-less as een van vier diëte wat wel werk.

Die suksesverhale op die organisasie se webtuiste sluit ook jonger mense in, waar ‘n hele paar gewilde diëte nie vir kinders aanbeveel word nie.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is die keto-dieet, waarop jou inname van koolhidrate streng beperk word. Kinders is aktief en het koolhidrate nodig vir energie.

Op Weigh-less, soos reeds gesien, word geen voedselgroepe uitgesny nie.

Wanneer ‘n mens kyk na resensies op Facebook en die verbruikerswebwerf hellopeter.com, blyk dit dat Weigh-less se grootste swakheid is om e-posse te beantwoord.

‘n Groot hoeveelheid kliënte spreek egter ook hulle tevredenheid met die program uit.

Een verslanker noem dit ‘n “gesonde, gebalanseerde eetplan waarop jy gewaarborg is om gewig te verloor as jy daarby hou.”

Ten slotte

Daar is hope verskillende diëte om van te kies. Party sny jou kalorieë drasties en jy moet so te sê verhonger. 

Sommige diëte vereis dat jy sekere voedselgroepe in geheel moet uitsny, ander forseer jou om handevol pille te sluk, en daar is selfs eetplanne waar jy tot vervelens toe dieselfde kos eet.

Weigh-less is een van min planne wat jou ‘n gebalanseerde eetplan bied. Iets van alles, maar nie te veel nie. Die basiese beginsel van eet net wat jou liggaam nodig het geld.

En boonop is jou Weigh-less-familie die hele pad daar om jou te ondersteun.

Comments

comments

Amper klaar... 50%

Kry meer inligting oor CSN deur jou besonderhede hieronder te verskaf en op die pers knoppie te kliek!